| Keuselys
|
|
|
Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:06
Algemeen
|
- DR B SPOELSTRA IN: HANDLEIDING BY DIE KERKORDE VAN DIE GKSA, 1966, INLEIDING. BL 19, 39 - 41 -
Die plaaslike kerk vorm 'n kerkverband vir die regering
Net soos die gelowiges vergader om 'n kerk te vorm omdat hulle één in Christus is, en die ampsdraers weer in 'n raad van en vir die kerk saamkom om in die Naam van Christus te regeer, so kom die kerkrade weer met ander kerkrade, met wie hulle één in leer is, saam om die regering in kerkverband te behartig. Daar is so 'n voorbeeld in die Skrif waar verteenwoordigers van die kerk van Antiochië saam met die kerk van Jerusalem vergader het en hulle gesamentlik besluit met gesag aan alle kerke deurgegee het (Hand 15). In die kerkverband gaan die selfstandigheid van die plaaslike kerke nie verlore nie ...
Die doel van die meerdere vergaderings is om, soos Voetius dit stel, die verskillende kerke in die Belydenis (die Formuliere van Eenheid) praktyk en godsaligheid van die gemeenskaplike geloof te bewaar, te bevestig en te bevorder en verder die belewing van vrede en eendrag te stimuleer (vgl NGB, art 32).
Dit is duidelik dat die kerke eers één in Belydenis moet wees voordat daar sprake van 'n kerkverband kan wees. Die kerkverband kom nie tot stand om die kerke een te maak nie, maar omdat hulle as kerke één in Christus is. In die moderne tyd kom die dwaling, onder invloed van die liberalisme en kollegialisme, baie voor, naamlik dat 'n organisatoriese eenheid van kerke geskep moet word om so die eenheid van die kerk te verwesenlik. Die formule daarvoor is om die Belydenis (die Waarheid) uit te dun en te vereng tot 'n absolute minimum om op dié wyse soveel moontlik “kerke” in 'n Ekumeniese of Wêreld-raad te betrek. Die dwaling onderskei nie die onsigbare en sigbare sye van die kerk nie, loën die wese van die kerk as 'n vergadering van gelowiges en vereenselwig die kerk met die ampsdraers en vergeet dat die ampsdraers vir die enkelvoudige funksies van kerkregering in 'n kerkverband saamkom.
'n Vergadering van ampsdraers met die doel om te regeer, is nie 'n vergadering van gelowiges (gemeente) wat vir aanbidding saamkom nie. Daarom is geen sinode of Wêreldraad die één kerk van Christus nie. Op hierdie gebied is daar velerlei misverstand, wat grootliks toegeskryf moet word aan die demokratiese gedagte dat 'n persoon sy kiesers representeer. Die ampsdraers wat Christus by die gemeente moes verteenwoordig, word volgens hierdie kollegialistiese denkbeeld gesien as die verpersoonliking van die gemeente. Die opvatting dat 'n sinode van ampsdraers “die kerk” is, vertoon ooreenkoms met die Roomse dwaling: waar die priester is, is die kerk.
Die Dordtse Kerkorde deur die GKSA aanvaar (1862)
Aan die wortel van die stryd wat gelei het tot die her-stigting van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, lê daar dogmatiese en liturgiese verskilpunte, maar in wese trek die afskeiding saam op 'n kerklike vraagstuk, wat grootliks ooreenkom met dié van 1834 en 1886 in Neder-land. Die vraag was: moet 'n minderheid met gewetens-besware, wat op Gods Woord en NGB, art 7, rus, hulle onvoorwaardelik onderwerp aan en konformeer met die be-slissing van die kollegialistiese “hoogste besture”? Gaan die reglementêre eenheid van die kerk bo die gehoor-saamheid van die gewete aan die Skrif uit? ...
Die eerste sinode van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het in 1862 te Reddersburg die Dordtse Kerkorde, aangepas by die landsomstandighede, as basis van die kerkregering aanvaar. Daarmee het die Calvinistiese, gereformeerde, kerkregtelike beginsels, soos beliggaam in die Dordtse Kerkorde van 1619, vir die eerste maal op Suid-Afrikaanse bodem formele en materiële regsgeldigheid verkry.
Die Kerkorde van die GKSA het dus wel 'n eie Afrikaanse karakter, maar sluit prinsipieel aan by die beginsels van gereformeerde kerkregering wat in die Dordtse Kerkorde (DKO) van 1619 beliggaam was. Vanself-sprekend is die artikels uit die DKO (4, 5, 37 en andere), waarin daar gepoog was om die Nederlandse owerhede met 'n kompromis tegemoet te kom, gesuiwer om die gereformeerde beginsel te handhaaf.
|
|
|
|
Inloggen
|