Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

DIE VERBORGE OPENBARING EN GEOPENBAARDE VERBORGENHEID

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:20  
Lukas 10 : 12 - 24
DS RONALD BAIN - POTGIETERSRUS-WES -

“In dieselfde uur het Jesus Hom in die gees verheug en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.” Lukas 10 : 21
Dis vreeslik om daaraan te dink dat ons ook die verborge openbaring bely. God openbaar Homself nie net nie, Hy verberg Homself ook. En Hy verberg Homself soms vir diegene van wie ‘n mens dit die minste verwag. Ons lees hiervan as Christus Hom verheug in die Gees. Hy sê: Ek loof u Vader. Hierdie woord vir loof is die intensiewe vorm van die woord om te bely. Ons hoogste Profeet bely openlik met danksegging die werke van die Vader. En so openbaar Hy ook die werke van die Vader.

“Vader, Here van die hemel en die aarde”. Christus bid so tot God, omdat Hy alle dinge regeer deur die raad van sy wil. En in sy raad is dit so besluit dat Hy sal openbaar, maar dat Hy sy openbaring ook sal verberg. Die woord wat met verberg vertaal is, staan in ‘n sterk verlede tyd. Verberg is hier iets wat vas besluit is. Dis afgehandel. Dis besluit voor die grondlegging van die wêreld dat Hy die openbaring sal wegsteek.

Hierdie evangelie word verberg vir die wyse en verstandige mense, sê Christus. ‘n Mens sou kon vra of wysheid nie juis ‘n gawe van God is nie? Vir die Skrifgeleerdes en die rabbi’s het wysheid ‘n ander klem gehad. Wysheid het beteken om geskoold en opgelei te wees in die wet. Hulle wysheid was dus ‘n bedrewenheid in die wet, maar ‘n bedrewenheid sonder geloof. Daar was geen ootmoed en geen afhanklikheid van God nie.

As Christus hier van die wyses en die verstandiges praat dan bedoel Hy diegene wat hulle verstand bo die Woord verhef het. Diegene wat geroem het in hulle intellektuele vermoëns en sonder enige ootmoed voor God, die Woord bestudeer het. Hulle het eintlik gesê: Eers verstaan en dan glo.

En let op, hier staan nie dat God die verberging toelaat nie. Hy verberg aktief. God verberg die Woord vir diegene wat die Woord aan hulle verstande, die ratio, wil onderwerp. Hy verberg sy Woord vir die arrogante geleerdes wat hulle verstande aanbid. En in hierdie verberging lê ook al die verskriklike oordeel van God. Want hulle dwaal nou al weg van die aangesig van die Here. Die dreiging van die hel begin nou al vir hulle.

Maar waarom kan die wyses en verstandiges van die teksgedeelte nie God se openbaring vat nie? Waarom word die evangelie spesifiek vir hulle verberg? Want dit is genade alleen. Dis alles genade. Ons saligheid is nie iets wat ons kan bedink of ontwerp of aan meedoen nie. Dit word aan ons geskenk en ons kan dit slegs ontvang deur die geloof. Die wyses van die teksgedeelte wil nie die evangelie kinderlik ontvang nie.

Maar wie is die kinders van die teksgedeelte? Is die kinders dan eerstens ongeleerd en ongeskoold? Kan geleerde mense nie ook kinders wees nie? Is die kinders dan volmaakte mense? Nee, die kinders sien ons verslae om die kruis staan en wenend by die graf. Bevrees in die bokamer. Hulle verstaan nie, maar deur sy genade glo hulle. Hulle geloof is klein, dis geskok, dis aan ’t wankel, hulle wil die vinger in die wonde druk. Maar God gee dat hulle glo.

O, die kinders se geloof is ook klein, die kinders verdien in hulleself ook God se oordeel. Maar dis alles genade. Hulle ken die afhanklikheid van kindwees. Die ootmoed wat pas by God se kinders. Hulle ontvang die openbaring gulsig en sonder voorbehoud uit die Vader se hande. Juis dié wat hulle ganse redding van die Here Jesus verwag is die kindertjies. Juis dié, wie se verstaan van geloof afhang is die kindertjies, soos ook die geleerde Paulus. Die kinders van die teksgedeelte is dié aan wie dit gegee is om te glo.

En dit was God se welbehae. Die geopenbaarde verborgenheid: Aan die kinders. Aan die lidmate van sy kerk. Aan die gelowiges. Die wat sy Woord gelowig aanvaar. Hulle hoef selfs nie slim of geleerd te wees nie. Die Vader gee dit aan hulle om soos kinders te glo. En eers as ek glo, dán kom die verstaan. Die geloof omarm alles, ook selfs dit wat ek nog nie verstaan nie. Waar daar kinderlike geloof is, groei die verstaan en belydenis van die waarheid.

Deur die geskiedenis van die kerk sien ons hoedat die evangelie troosryk geopenbaar word, maar soms ook verskriklik verberg word. Dink maar aan die Roomses van die middeleeue. Of aan die latere kerkgeskiedenis van die 19de eeu in Nederland. Die Vader het sy openbaring ook verberg vir die kerk wat hoogmoedig op haar eie insigte gesteun het. En nie net oor ons saligheid nie, maar ook oor ons gehoorsaamheid. Meerdere vergaderings het deur die eeue hulle soms ook vasgeloop in die verborge openbaring.

Met die komende sinode ys ‘n mens as jy aan die moontlikheid dink dat God Hom ook daar kan verberg. Dat dit sy welbehae is om Hom nie net te openbaar nie, maar ook te verberg. Dat die Woord selfs vir ‘n sinode die verborge openbaring kan word. Ons kan onsself nie daarvan vrywaar nie.

‘n Mens sidder as jy dink dat al die sinodegangers hulle wys en verstandig kan voorhou, maar dat die openbaring verborge bly, rakende ons gehoorsaamheid en heiligheid. Dat daar verwarring en teëspraak is oor die waarheid. Het ons miskien vergeet om soos die kinders te word en om soos die kinders te glo? Dat Hy Hom net openbaar aan die wat kinderlik glo?

En hoe maklik is dit nie om nou die vinger te wys nie? Om die Woord toe te pas op andere nie? Hoe maklik vergeet ‘n mens nie dat die Hoogste Pro-feet ook met my praat deur sy Woord nie? Is daar nie dalk by my ‘n skadelike weg nie? Het my geloof nie dalk self ootmoedloos en liefdeloos geraak nie, sodat ook ek skuldig staan ten opsigte van die verberging van die waarheid nie?

Mag die Here gee dat ons ons lewens met ‘n heilige erns sal ondersoek en in die gebede stry dat ons soos die kinders sal glo. Minder vinger wys en meer bid. Meer op die knieë in die binnekamer voor en tydens die sinode - pleitend dat die Here sy wil tog nie vir ons sal verberg nie. Op die knieë met ootmoed oor ons persoonlike sondes, ons ampsondes en die sondes van die kerkverband. Kinderlik afhanklik van die Vader, omdat ons die openbaring nie self kan ontrafel nie. Die Woord van die Here is geopenbaarde Waarheid, maar ook geopenbaarde verborgenheid. Dit hang maar af of daar 'n hegte, egte, geloofsverbintenis met die sprekende God, die Woord van die Here, aanwesig is of nie. En wanneer ons só na die sinode gaan word ons getroos dat dit sy welbehae is om Hom aan ons te openbaar!

DIE VERBORGE OPENBARING EN GEOPENBAARDE VERBORGENHEID | Inloggen/Aanmaken van een account | 0 Opmerkingen
Opmerkingen zijn eigendom van de plaatser. Wij zijn niet verantwoordelijk voor de inhoud.
  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php