Die Kerkpad
"Laat ons wandel in die lig van die Here"
(Jes 2 ; 3 - 5)

Soek  
Keuselys  

  

Die Kerkpad November 2005: TRANSFORMEER? OM DIE EER VAN DIE HERE, BESLIS NEE! REFORMEER! DIS DIE WEKROEP VIR DIE GEREFORMEERDE KERK

Geplaatst door: Admin op 17 Okt 2005 - 17:11 Redaksioneel 
Redaksioneel - P van der Kooi -


“En die woord van die HERE het tot my gekom en gesê:
Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer,
en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is:
Hoor die woord van die HERE!” (Es 13:2)

Die omstandighede in die kerk, spesifiek in die GKSA verband van kerke, maak dit noodsaaklik om, soos die profeet Esegiël in sy dae geroep is om 'n wag vir die huis van Israel te wees (Es 3:17), tans die trompet te blaas en luid te verkondig: Gevaar! Die kerk van die HERE verkeer in gevaar!


Van tyd tot tyd gebruik die HERE instrumente wat Hy geformeer het om te alarmeer en sodoende die pad vir die toekoms veilig te maak. Die toekoms van die kerk van die Here staan op die spel. Nou is die tyd, nou is die dag om te reformeer. Waaroor gaan dit? Dit gaan oor die verandering, transformering van Sy kerk. Die kerk word verander om aan te pas by sekulêre omstandighede en “bestuur” met die oog op die totstandkoming van 'n wêreldwye ekumeniese kerk, waarin verskille tussen mans en vrouens, rasse, volke en bodems (kultuur), Christelike asook nie-Christelike religies, nie in sy betekenis of op hul regte waarde geskat en beoordeel word nie. Leer en regeerverskille in die kerk word ligweg tot 'n saak van “middelmatige sake” gerelativeer, sonder om onbevange te luister na die Here se Woord.

Die Here se Woord word in terme van die dialektiese teologie betwyfel. Die Bybel is geen onbetwyfelbare norm, met geldingskrag vir álle tye en in álle omstandighede en vir álmal meer nie. Skrifgegewens word geïnterpreteer om te kan aanpas by die huidige omstandighede van die bestaan. Kan dit? Maklik, as daar 'n gesag van bo af uitgeoefen word met die beklemtoning: Die Here wil dit! Maar mag dit? Nee, want as sinodebesluite nie met die Woord van die Here ooreenstem nie, mag dit nie as vas en bindend beskou word nie . “Ons mag ... geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid (die volkomenheid van die Heilige Skrif) van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulle self leuenaars en nietiger as die nietigheid self” (NGB, art 7; KO, art 31).

Samewerkende kerkrade het op 5 Maart vanjaar 'n “Kerkekonferensie” (GKSA) in die Gereformeerde Kerk Pretoria (Paul Krugerkerk) belê waar die noodsaaklikheid van terugkeer tot die norme, die noodsaaaklikheid van reformasie, bepleit is. As dit in 'n “gesonde” gemeenskap van kerke gedoen word, dan sal die Woord van die Here die hoogste en absolute gesag ontvang. Daarenteen as dit in 'n “siek” of “boos” of “vals” gemeenskap gedoen word, dan vind die reformatoriese oproep geen weerklank en aanvaarding meer nie. Dis soos die redakteur van DIE KERKBLAD, prof JH (Amie) van Wyk, dit na aanleiding van die genoemde kerkekonferensie in In die Skriflig, April vanjaar, gestel het, dat betrokke besluite as vas en bindend beskou moet word, tensy die beswaarde minderheid daarin slaag om die meerderheid van 'n sinode aan hulle kant te kan kry: “Die Kerkorde reël dat, indien die meerderheid in 'n sinode 'n besluit geneem het, daardie besluit 'vas en bindend' is, tensy bewys kan word dat die besluit in stryd is met Gods Woord”.

Hierdie misleidende weergawe van artikel 31 KO is 'n belemmering vir die gesondmaking van die kerk, vir reformasie van binne-uit. Dis nie so maklik om weer om te draai nie!! Dis vóór alles 'n kwessie van gesindheid. En dan rys die vraag: Pas dit nog bymekaar? Pas dit wat ons met 'n onaantasbare sekerheid glo, saam in één kerkverband waar nie die hoogste klem op die normatiewe onderwerping aan die Woord van die Here nie, maar op 'n meerderheid van stemme berus? Hoe raak dit die voortbestaan van die kerk? Binne die verband van die GKSA word ware reformasie by voorbaat uitgeskakel deur middel van kerklike afvaardiging na die Sinode (DV Januarie 2006) van predikante en ouderlinge, wat in hulle plaaslike kerklike bestaan, die betrokke leerstellige, liturgiese en kerkregering veranderinge reeds aanvaar en toegepas het.

Bogenoemde lei tot die besef dat reformasie, hier en nou, op 'n ander wyse aangepak moet word. Die Kerk van Christus, die GKSA, staan nie meer vas op sy fondament nie en het, vanuit die (Potchefstroomse) binnekring, self die fondament (vaste, onbeweeglike, onveranderlike norm) ondergrawe. Dus moet die Kerk herbou word op die vaste fondament van die apostels en profete. Die enigste wyse waarop dit kan plaasvind is om af te skei van hulle, wat “aan homself en sy besluit (die sinode) meer mag en gesag toeken as aan die Woord van God”; wat “homself (die sinode) nie aan die juk van Christus onderwerp nie; die sakramente nie bedien soos Christus dit in sy Woord beveel het nie, maar wegneem en byvoeg na eie goeddunke; en meer op mense as op Christus vertrou” (NGB , art 29).

In die kerk van Christus moet die waarheid seëvier. Dit betref ook die gemeenskapsbeoefening in kerkverband. Dit raak die senuwee van ware eenheid. Ware eenheid kan slegs funksioneer met die erkenning van verskeidenheid wat die Skepper-God geformeer, en in sy voorsienigheid in die geskiedenis van die mensheid, dit alsó bestuur het. Die poging by die toringbou van Babel het misluk omdat die Here gesien het waarmee dié mense besig was, en dis Hy wat dié één-wêreld-strewers deur middel van die spraakverwarring verdeel het.

  
Inloggen  




 


Bent u nog niet geregistreerd? U kunt zich inschrijven!
Problemen met inloggen?

Alle logo's en handelsmerke op hierdie webtuiste is die eiendom van hulle onderskeie eienaars. Die kommentaar op die webtuiste is die eiendom van die outeur. Die res is © 2005 van die Kerkpad.
Hierdie webtuiste gebruik PostNuke, 'n web portaal stelsel wat in PHP geskryf is. PostNuke is Gratis Sagteware beskikbaar onder die GNU/GPL lisensie.

Alle nuusartikels is ook met RSS beskikbaar vanaf backend.php